Marga Jonker
Biografiese inligting
Marga Jonker is gebore op 6 Februarie 1964 op Vredenburg aan die Weskus. Sy het grootgeword op ‘n plaas tussen Paternoster en Stompneusbaai. Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg in 1981. Sy het ‘n onderwysdiploma aan die Wellington Onderwyserskollege, ‘n BA graad met Xhosa en Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, en ‘n Verdere Diploma in Vroeë Kinderontwikkeling aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf.
Marga is tans die Xhosa derdetaal-onderwyseres aan die Voorbereidingskool Durbanville waar sy graad 2- en 3-kinders bekendstel aan Xhosa as derde taal. Sy skryf en ontwikkel die kurrikulum hiervoor en maak rympies en stories om by haar materiaal te pas. Sy glo veeltaligheid lei tot multi-kulturele ontwikkeling. Sy wou van kleins af graag skryf en het gedigte in haar dagboeke geskryf. Sy het egter eers in haar veertigerjare dapper genoeg gevoel om van haar werk in Afrikaans aan uitgewers voor te lê.
Marga en haar eggenote, PG, woon in Durbanville saam met hulle drie kinders, Hardus, Anita en Chris-Jan.