Woonstelbewoners en nuwe uitdagings

Ons het die jaar bereik waar twee van ons kinders die nes verlaat het. Hulle woon nou so 20 km verder in ‘n woonstel in Kaapstad.  Niemand is te getraumatiseerd nie. Kleinboet sê hy mis hulle, maar hy skuif flink van die rekenaar na die iPad na die Dstv sonder enige kompetisie.

Hier is niemand wat hom aansê dat sy beurt verby is nie, en dat, toe hulle so oud was soos hy, hulle boeke moes gelees het.  Sy nuwe Wimpy Kid lê op sy lessenaar en The Fire Thief onder dit;  nog nie eens oopgevou nie.

Ons raak ook mak in die nuwe stilte van die huis.  Ek lees so lekker, ek maak minder kos,  maar ek stuur baie WhatsApp boodskappe vir die woonstelbewooners.  Ek moet natuurlik ook kospakkies voorberei.

Geurnsy

Só kom ek eers weke later agter dat die rekenaarspeletjiemonster ons boekwurmpie  oorskadu,  en dat ons duidelik uitgedaag word om die boekwurmpie fiksheidklasse te moet gee.

Ons pak ou en nuwe gunsteling boeke op ons tafel uit.  Eintlik lê die tafel altyd vol boeke.  Maar nou kondig ons ‘n leesuur aan.

Klein biblioteek

Die uur is nou op die oomblik net ‘n halfuur lank en word afgemeet.

Tydhouer

Ons hou duim vas vir goeie resultate en dat die wurmpie sommer gou gou weer ‘n wurm sal wees.