Sukses! Oorwinning, met slaggate.
Vrae of ons leesuur-halfuur suksesvol was, kan ek darem positief beantwoord. Ja, dit was. Suksesvol genoeg vir ons.
Daar is vier boeke in die afgelope ses weke gelees, ten spyte van die gewone graad ses-program; karate, kitaar, blues-kitaar, boogskiet, rekenaarspeletjies en maats. Daar is ook ‘n leesuitdaging tussen hom en van sy maats. Hulle wil die Thomas-reeks deurlees vóór die Junie-vakansie. Hulle het mekaar spontaan uitgedaag.
Alhoewel prysenswaardig, is hierdie lesertjie, of dan nou die leesweerstandige boetie van ons, nie naby aan wat mens ‘n boekwurmpie kan noem nie. Ten minste is daar wel nou ‘n leeswêreld in ons huis.
Motivering is vierkantig op ons as sy ouers se skouers. Liefde vir lees gebeur nie spontaan by alle kinders nie, maar ons het ontdek as ons so saam lees, gebeur daar iets. Ons as die saamlesers moet ook ‘n boek met ‘n titel hê. Dit pla hom as ons Sarie of Finweek sit en lees. Hy wil dan ook Nag lees. Voorbeelde is toe werklik aansteeklik.
Dit is lekker as ons die onwillige boekwurmpie vra om vir ons sy beste sin of paragraaf hardop te lees. Hy hou van die humor in stories, of die ongewone, en lees dit dan graag vir ons hardop voor.
In hierdie huis gaan die Leesuur-uil maar sy oë nog lank moet rek.
Tog is ons opgewonde en dankbaar vir die boeke wat ons gelees kon kry hierdie kwartaal. Dit was lekker boeke, sê hy. Sy gunsteling hierdie kwartaal was Teary Deary se The Fire Thief.
Mag ons nog gunstelinge ontdek, en mag die leesuitdaging om die Thomas- reeks klaar te lees voor Junie, lei tot liefde vir speurreekse.